Getoets deur Fanie Cronjé, SARIE se sosiale- en stylredakteur
Die gevoel wat jy kry as jy by die Sorbet Man-salon by Melrose Arch, Johannesburg instap is soos dié van ’n skoon, eenvoudige barbierwinkel: wit en nuut, maar ook warm en gemaklik. My eerste behandeling was ’n neuswaks (R75). Die barbier druk twee stokkies met warm waks in elke neusgat. Hy het ook petroleumjellie aan my snor gesmeer sodat die waks nie daaraan kleef nie. Sodra die waks afgekoel het, word die stokkies so vinnig uitgepluk dat jy net vir ’n sekonde pyn voel. Ná die behandeling is daar nie ’n neushaar in sig nie.
Met die volgende behandeling is my lyfhare versorg. Vir nog ’n waks het ek nie kans gesien nie. Gelukkig bied Sorbet Man die opsie om jou bors-, maag- of rughare met ’n klipper te laat skeer (R110 per deel). Aan my borshare sal ek nie laat raak nie, maar die hare op my rug moet in toom gehou word.
Die behandeling is gerieflik. Jy trek jou hemp uit en gaan lê op jou maag op ’n bed in een van die salonkamers. Die barbier skeer dan die hare af. Jy kan maar enige hare met vrymoedigheid laat skeer, want dis ’n mite dat dit dikker of meer teruggroei. Om die ervaring af te rond, het ek ’n heerlike rugskrop en –massering gekry (Back Up Plan: R355), amper soos ’n mini-gesigsbehandeling vir jou rug. Die rugskrop verhoed ingroeihaartjies.
Die behandelings was ’n lekker bederf: gerieflik en eenvoudig.
Besoek www.sorbet.co.za vir meer inligting
The post ’n Middag by ’n manssalon appeared first on SARIE.