Op die mooie Mauritius het die Protea-krieketster Quinton de Kock verlede maand met sy meisie van vier jaar, Sasha Hurly, getrou.
Quinton en Sasha het voor vriende en familie op dié tropiese eiland getrou. Ander Proteas soos AB de Villiers, JP Duminy, Chris Morris, Dale Steyn en Dave Miller was ook deel van dié bruilofvieringe.
Anel Botha het Sasha se rok ontwerp, en Quinton en sy strooijonkers was in Polo-pakke geklee. Die enigste blomme op die troue was die bruidsruiker van wit rose en krytblomme (gypsophila). Die strooimeisies se ruikers het net uit krytblomme bestaan.
Ná een dag se wittebrood op die eiland moes die twee terugkom huis toe, want Quinton moes weer in ’n krieketreeks speel.
In ʼn kort onderhoud vertel Sasha van hul groot dag by die pragtige Le Victoria-hotel op Mauritius.
Waar het julle ontmoet?
Tegnies op Facebook. Ek was ’n danser vir die Champions League wat Suid-Afrika in 2012 aangebied het. Ek het toe vir Quinton ʼn boodskap op Facebook gestuur om hom geluk te wens met ʼn goeie wedstryd en die res is geskiedenis. Ons het dadelik ʼn konneksie gehad. Die oomblik toe ek hom sien, het ek geweet hy is my trouman.
Hoe lank is daar beplan aan jul troue?
Ons het nie beplan om in Mauritius te trou nie. Ons wou oorspronklik eers Desember vanjaar in Knysna getrou het. Toe besluit ons in Januarie om op Mauritius te trou. Dit was ’n bestemmingstroue en die meeste beplanning eers sowat twee maande voor die tyd gebeur.
Was Quinton betrokke by die beplanning?
Nee, glad nie. Quinton was net betrokke by die beplanning van sy ramparty. Ek moet egter bysê, hy het daarop aangedring dat ek my strooimeisie se rokke moet verander toe dit opdaag, want hy het geweier het om in te pas by die salmpienk kleurskakering wat ek gekies het. Ek moes toe die rokke laat oormaak, maar ek is agterna bly oor die besluit.
Vertel ons van die rok wat Anel Botha vir jou ontwerp het.
Ek is steeds verlief op my rok. Ek het al die elemente waarvan ek in ander rokke hou, gekombineer. Ek wou ’n strandgevoel hê, maar steeds die gevoel van ʼn trourok met ʼn sexy element. Ongelukkig het die foto’s nie my rok tot sy reg laat kom nie. Gelukkig het dit steeds wonderlik uitgewerk, al die blinkers het my soos ʼn prinses laat voel. Die rok het ook geen belyning gehad nie en was vreeslik lig – ek kon gemaklik beweeg en heelaand dans.
Kyk nog foto’s hier:
Lees nou
FOTO’S: Springbok Pieter-Steph du Toit se troue
Een Protea getroud en ander verloof!
Bekende ‘photobomb’ paartjie op troudag!
The post FOTO’S: Protea-ster Quinton en Sasha se groot dag appeared first on SARIE.