Vir die afgelope paar maande kuier die Afrikaanse aktrise Christel van den Bergh weeksaande in TV-kykers se huise. In die kykNET-sepie Getroud met Rugby speel sy die rol van die ambisieuse Renate Greeff, wat getroud is met die Stryders-rugbyspeler Simon (David Louw). Maar op 8 Oktober het Christel haar eie sprokiestroue gehou.
Sy en JP van der Merwe, ’n risiko-adviseur en ekonomiese-ontwikkelingskonsultant, het by Bell Amour by die Roodeplaat-dam net buite Pretoria getrou.
Die venue was baie spesiaal, met ’n Franschhoek-gevoel vol blomme, wingerde en olyfbome, vertel Christel.
“Ons wou aanvanklik in die Kaap of in Nature’s Valley trou, maar oor ons Johannesburg toe verhuis het, was dit beter om naby die huis te trou. En dit was spesiaal, ’n troue in Pretoria, waar ek vandaan kom, wat lyk soos die Kaap, JP se plek van herkoms.”
JP het Christel met ʼn roosgoud-verloofring bederf. Sy het die hele tema van haar troue om dié ring gebou! Sy is ook lief vir olyftakkies en voëltjies, wat sy oral saam met die roosgoud gebruik het – van die save the date tot die onthaal.
En hoe voel dit om met Christel getroud te wees? JP sê: “Ons is al vir vyf jaar saam en om getroud te wees voel baie dieselfde. Om saam met Christel te wees is interessant en pret. Sy het ʼn mooi en vrygewige, onselfsugtige hart. Met ʼn sterk wilskrag. Ek is baie lief vir haar.”
Vir hom was die hoogtepunt van die dag om haar in die paadjie sien afstap.
“Dit was baie emosioneel maar ook ongelooflik vir my. O ja, en nog iets om by te sê, sy het asemrowend mooi gelyk. Haar rok was amazing!”
’n Dag vol vriende en familie
“My troue was so sentimenteel, alles behalwe die venue is deur vriende gedoen,” vertel Christel. Wat die reine waarheid is, want haar en JP se vriende en familie was onmisbaar betrokke.
“Die dag was perfek. Regtig! Om almal wat jy liefhet vir een dag saam met jou daar te hê is só spesiaal en dit was die beste partytjie nóg. Met baie sjampanje – natuurlik!” vertel sy verder.
Haar nege bruidsmeisies was uiteraard haar beste vriendinne, wat Nadia Valvekens (Binnelanders), Amalia Uys (Sy Klink Soos Lente), Ciske Kruger (Bakgat!) en haar sussie, Lionie, insluit. Amalia het ook ’n toespraak gehou en die heildronk op die paartjie ingestel. Ciske se dogtertjie, Amelié, was die blommemeisie en Christel se broerskind, Christiaan, was die ringdraer!
Haar vriende het elkeen iets spesiaals vir of op die troudag gedoen.
Ciske, wat ook ’n haarstilis is, het Christel se hare gedoen. Hennie Jacobs (Diederick van 7de Laan) het kitaar gespeel, terwyl aktrise Jaqui Shiel gesing het. Aktrise Hanna Grobler het spesiaal die tafelgebed gedoen. Haar bruidsmeisie Clarissa Nel se man, James Strack van A Wedding Lifestyle, was die fotograaf en het sommer die foto’s as trougeskenk gegee!

Die aktrise Hanna Grobler het spesiaal die tafelgebed gedoen.
FOTO James Strack van A Wedding Lifestyle
Een van haar ander beste vriendinne, Marique Yssel van Marique Yssel, het haar trourok en die bruidsmeisies se rokke ontwerp. Ook die oulike kimono’s wat Christel en haar gevolg gedra het terwyl hulle vooraf gekuier en vir die bruilof gereed gemaak het.
JP se tannie Ilze het ʼn sjokolade-en-macaroon-boetiekfabriek in Engeland, Ilze’s Chocolate, en het macaroons as geskenk gegee vir die nageregtafel. Die gaste het dit só geniet dat daar nie eens vir Christel self een oorgebly het om te eet nie!
Die 170 gaste het elk ʼn bagasie-naamkaartjie van leer as geskenk ontvang. Dié geskenke is deur Natasha Joubert gemaak, met elkeen se naam agterop gegraveer en die troulogo aan die voorkant.

Die gelukkige paartjie saam met die Afrikaanse sanger Sorina Flooze Erasmus en haar man, Braam. FOTO James Strack van A Wedding Lifestyle
En Renette Lotriet van Renette’s Cake Creations het die troukoek as geskenk gegee.
Die blomme is deur niemand anders nie as Lééf se Juané Scheepers gedoen. Sy het deesdae haar eie besigheid, A Seed To Sow. En haar skoolvriendin Nita Terblanche het die webtuiste en troulogo ontwerp.
Gepraat van ’n dag wat ook deur vriende, familie en geliefdes spesiaal gemaak is!
– Christel en JP se bruilof word op 27 Oktober deur Bravo! uitgesaai om 20:00 op kykNET (kanaal 144).
Verskaffers
Venue – Bell Amour
Trourok en bruidsmeisies se rokke – Marique Yssel
Troufoto’s – James Strack van A Wedding Lifestyle
Troukoek – Renette Lotriet van Renette’s Cake Creations
Macaroons – Ilze’s Chocolate
Blomme – Juané Scheepers van A Seed To Sow – a.seed.to.sow@gmail.com
Lees nou
TROUFOTO’S: Aktrise Roeline Daneel
FOTO’S: Protea-ster Quinton en Sasha se groot dag
FOTO’S: Aktrise Rolanda Marais se sprokiestroue
The post EKSKLUSIEF: Aktrise Christel van den Bergh se troue appeared first on SARIE.