Vir vyf jaar het Ruan Wessels die rol van Morné in die kykNET-sepie Binnelanders vertolk. Maar dis nie al nie, hy het ook naam gemaak in flieks soos Hoofmeisie, Roepman, Agent 2000, Dis ek, Anna en nou weer in Jou Romeo. Kollig het groot vreugde en verrassings oor sy pad gebring. Maar daar was ’n prys: Boelies. Van die begin af moes Ruan leer hoe om hulle te hanteer.
Ruan speel die hoofrol in dié nuwe Afrikaanse rolprent wat vroeg in Desember begin draai. Dis vervaardig deur Film Factory, wat ook trefferflieks soos Vir Altyd, Sy Kink Soos Lente en Vir die Voëls gemaak het.
Hy was net 13 jaar oud toe hy oudisies aflê vir Binnelanders en Hoofmeisie. In dieselfde week het hy gehoor hy het albei rolle losgeslaan. Hy was toe in die Hoërskool Noordheuwel op Krugersdorp.
Die sukses op so ʼn jong ouderdom was ʼn groot verrassing en vreugde vir Ruan, maar hy het gou besef dit kom teen ʼn prys.
“Ek is op genade deur skool. Ek het nie baie geleer of huiswerk gedoen nie,” het hy aan SARIE.com vertel. Hy moes boonop leer hoe om boelies te hanteer.
“Dit was tough. Kinders vorm hul eie opinies. Eers het ek gemaak of ek dit nie hoor nie, maar dit werk nie regtig nie. Wat wel gewerk het was om hulle te approach in liefde en vrede. Ek het net vir hulle gesê: ‘Ek gee jou nie moeilikheid oor jy rugby of krieket speel nie, moet my nie moeilikheid gee oor ek toneelspeel nie.'”
Ironies genoeg is hy self baie lief vir aksie-krieket. In 2012 was hy gekies as lid van die Proteas se Diamond-ontwikkelingspan. En in 2014 het ʼn bronsmedalje verower by die wêreld-kampioenskappe vir koeng foe.
Ten spyte van boelies bly dié donkerkop seun gewild onder kykers.
Sy karakter in Binnelanders was só gewild dat selfs toe sy ouers (gespeel deur David Minnaar en Elma Postma) die reeks verlaat het, het Ruan agtergebly.
“Binnelanders het my van die begin af laat weet ek kan self besluit of ek wil aanbly of nie. Ek het die opsie.”
Ruan het sy kontrak by Binnelanders beëindig juis om meer fliekwerk te doen.
Hy het geen formele opleiding nie en het geleer soos wat hy aangegaan het. In die bedryf self. Dit was veral Dawid Minnaar wat baie gehelp het om hom touwys te maak
“Ek moes elke dag vroeër stel toe gaan sodat ons deur my teks kon werk. Hy (Dawid Minnaar) het my gewys hoe om deur ʼn teks te werk en my in toom te hou en professioneel te wees op stel.”
Jou Romeo gaan oor ʼn groep skoolkinders, verbode liefde en die stryd tussen die jocks en die nerds. Sy karakter Markus is ʼn jock wat verlief raak op ʼn drama-nerd.
“Ek was nie ʼn jock of ʼn nerd nie, ek was iewers in die middel.”
Hy speel volgende jaar in nog ʼn fliek, Kampterrein, en ook ʼn TV-reeks vir kykNET, Seepglad.
Kyk die lokprent van Jou Romeo hier:
Lees nou
The post Ruan Wessels oor boelies: ‘Dit was tough‘ appeared first on SARIE.