Daar is ’n nuwe nuwe sangsensasie in die land: Jo Black. Hy kom uit die stal van die man met die goue hande, musiekvervaardiger Johan Vorster.
Jo se eerste musiekvideo van ’n enkelsnit is 23 November op iTunes bekend gestel. Op 25 November is dié liedjie, “Skepe”, as enkelsnit vrygestel. Die musiekvideo het geëindig as nommer een op iTunes in Suid-Afrika.
Volgens Netwerk24 het dié einste liedjie selfs vir die gewilde Karen Zoid op iTunes geklop.
Kyk die musiekvideo hier:
“Ek is oorweldig, ek het nooit kon dink ek sal nommer een wees nie. Ek sing al vir 16 jaar. Ek was nooit van plan on ʼn CD uit te bring nie. Dit was eers toe Johan Vorster en sy span my genader het dat ek geïnspireerd gevoel het om dit aan te pak”, vertel Jo aan SARIE.com.
Sy tyd het aangebreek. Jo se musiek en albums word deur Johan Vorster vervaardig. Dit sê al klaar baie. As jy dink aan sangers wie se loopbane groot hoogtes bereik het met Johan agter hulle, kan jy nie anders as om te voorspel dat Jo Black sukses kan verwag nie. Dink aan Bok van Blerk, Dewald Wasserfall en Karlien van Jaarsveld, om net ’n paar te noem.
Jo het in sy begindae in kroeë gesing. Daarna was dit gospel en lofsang by kerke. Sy motiveringspraatjies by skole het die afgelope ruk aandag begin trek en gou was daar mediabelangstelling. Wie is die man met die groot baard en baie tatoeëermerke wat skoolkinders moed inpraat en adviseer? Sy boodskappe gaan oor onderwerpe soos selfdood, en hy sê vir jongmense: “Wees goed vir jouself en vir ander.”
Sy eie storie is aangrypend en inspirerend. Dis ’n verhaal van verslawing en sy pad was nie altyd maklik nie. Sy lewensverhaal laat jou luister met respek, afgryse en verwondering. En dan die applous, die cheer. Daai gevoel wat jy kry as één mens iets goeds doen, soos om ’n medalje te wen of ʼn drie te druk. Is dit hoekom daar so baie hart en siel in sy musiek is? Sy stem is manlik, maar gelaai met emosie. Die lirieke is diep sonder om te dweep. Poëties, liries miskien selfs intelligent, noem dit wat jy wil. En of jy daarvan hou of nie, sy musiek het artistieke meriete. Dis iets wat die laaste paar jaar skaars geword het onder baie Afrikaanse sangers.
Die jaar waarvoor Jo al so lank werk, het aangebreek. Nou proe hy uiteindelik sukses as sanger. “Almal ken my as die ou wat by skole praat en ek is dankbaar om nou ’n positiewe boodskap deur musiek oor te dra. Vergeet van my baard en my vellies en my tatoes. Dit gaan oor stigmas, ek hou daarvan om vooroordele te vernietig. Mense onthou my as gevolg van hoe ek lyk, maar as ek my mond oopmaak en hulle hoor my hart, dan voel ek dat ek die doel bereik het.”
Jo se vollengte-CD word vroeg volgende jaar bekend gestel. Hy is getroud met Debbie en hulle het twee kinders, Dinieke (7) en Miané (4). Die gesin woon in Pretoria.
Lees nou
Verklap Rolene die geslag van haar baba?
3 trifles wat jou lewe gaan verander!
Celebs: SA se trotse pa’s deel babafoto’s
The post Wie is Jo Black? appeared first on SARIE.