Sy was in 2014 een van die 10 finaliste in SARIE se Voorbladgesig-wedstryd. Sedertdien gryp Almarie du Preez elke geleentheid aan wat oor haar pad kom.
Oor agt maande word haar eerste vollengte-album uitgereik, maar jy kan reeds haar eerste enkelsnit, “Jy vir my”, op iTunes aanskaf. “Dis die eerste keer dat ek op my eie ’n sangpoging aanpak. Ek het al saam met Bouwer Bosch gewerk en ’n liedjie, “Klapsoen”, vir die fliek Strikdas opgeneem.”
Almarie het pas klaargemaak as aanbieder van die kykNET-program Jam, ’n weeklikse joernaalprogram oor Afrikaanse musiek. “Ek het Jam vir twee jaar aangebied. Elke week het ek met twee musiekkunstenaars onderhoude in die ateljee gevoer.”
Saterdae bied sy van 08:00 tot 09:00 die program Kleurvol op Radiokansel aan. En in die SABC2-dramareeks Swartwater het sy in twee episodes die rol van ’n prokureur gespeel.
Later vanjaar verskyn sy in die Frans Cronjé-fliek The Roar. Sy speel teenoor Heinz Winckler.
Almarie het ’n honneursgraad in sielkunde en meestersgraad in musiekterapie. “Ek doen nog soms werk in musiekterapie. In die vermaaklikheidsbedryf moet jy beskikbaar wees en nie te gebind wees nie.”
As sy net een van haar baie talente kan uitleef? “As ek nou een móét kies, sal ek sing en klavier speel. En as ek ooit so goed soos die aktrise Rolanda Marais kan wees, sal ek ook ’n groot rol in ’n TV-reeks wil speel. Ek het ongelooflike bewondering vir haar en Anna-Mart [van der Merwe]. Wie weet, miskien eendag.”
Wat het die SARIE Voorbladgesig-wedstryd vir haar beteken? “Ongelooflik baie. Ek het ’n ander prentjie van skoonheid gekry; en ek het baie gegroei. Sommige mense herken my vandag nog as ’n SARIE Voorbladgesig-finalis.
Hier’s Almarie se top-36-foto wat destyds in ons Julie 2014-uitgawe verskyn het:
Almarie, as een van die top-10-finaliste:

FOTO Leana Clunies-Ross

FOTO Leana Clunies-Ross
Almarie glo nie net aan hard werk en om ’n sukses van jou loopbaan te maak nie, maar ook aan die liefde.
“Ek hoop daar is ’n lewensmaat vir my wat net so passievol oor die lewe is en dit saam met my sal aanpak.”
Wie gaan die wenner wees van SARIE Voorbladgesig?
Die top-40 is in ons Julie-uitgawe – nóú te koop!
The post Voorbladgesig-finalis nou ster! appeared first on SARIE.