Die pragtige Carina Nel is al langer as ’n jaar in die SABC2-sepie 7de Laan, en sy speel nie net een nie, maar twee karakters!
Haar eerste karakter is dr. Alexa Welman, oudste dogter van die skatryk egpaar Chris en Mariaan Welman. Sy bedoel goed, maar is soms onseker van haarself en haar liefdeslewe is ook nie te waffers nie. Haar tweede karakter is die sluwe Amanda, wat verstommend baie na Alexa lyk. In een episode het Amanda selfs die arme Alexa geskiet!

Carina Nel as Alexa

Carina Nel as Amanda
Ons het gaan inloer by Carina om te hoor hoe sy die twee karakters lewe gee.
Hoe lank neem dit om in Alexa te “verander”?
Dit neem ongeveer 40 minute vir my karakter se hare en grimering. Haar haarstyl is op die oomblik groot, los krulle. Haar grimering is natuurlik met ’n mooi pienk lip, en alles word baie netjies aangewend in lyn met haar karakter.
En Amanda se look?
Dit neem heelwat langer – ongeveer twee uur! Ek dra blou kontaklense. My hare vat die langste. Dit word in baie dun seksies gevleg deur ’n haarnaald, waarna hitte opgesit word deur ’n straightener te gebruik. As jy als losmaak, kry jy die frizzy effek. Eers dan word dit in ’n styl gestileer. Daarna word Amanda se tatoe in my nek geplak. Sproete word opgesit deur met ’n kwas bruin kleure op my gesig en nek te sprei. My wenkbroue word ligter gemaak en ek kry dan ’n dowwe grys oogskadu, rooi lippe en maskara. Amanda se grimering word nie so netjies soos Alexa s’n gedoen nie.
Hoe werk dit as albei karakters in dieselfde toneel moet verskyn? Word dit op dieselfde dag geskiet?
Ja. Ons sal die oggend al die tonele van die een karakter shoot en in die middag dieselfde tonele oordoen met die ander karakter.
Staan ʼn ander akteur vir jou in as jy een van die ander moet speel?
Karin Retief, ons dialoog-afrigter, staan in vir die ander karakter.
Word jou hare nie in die proses beskadig nie?
Dit is ’n rowwe proses, maar die hare- en grimeerspan gee my hare altyd ’n goeie behandeling met fantastiese produkte ná die dag se verfilming.
Is die grimering straf op jou vel?
Dis veral rof as ek albei karakters op een dag moet speel, want dit beteken twee keer per dag moet grimering aangewend en weer afgehaal word. Die skeduleringspan probeer ook sover moontlik maak dat ek nie albei karakters op dieselfde dag moet speel nie.

FOTO Verskaf
Wat is die grootste uitdaging om twee karakters in een sepie te speel?
Dis inderdaad ’n groot uitdaging, ek dink die belangrikste is om die twee karakters so uiteenlopend as moontlik te maak, maar te sorg dat dit steeds natuurlik is. Amanda moet steeds geloofwaardig wees, maar heeltemal verskil van Alexa. Ek moes ’n nuwe karakter skep met Amanda. Elke fyn detail van hoe sy loop tot hoe sy praat.
Jy speel die twee rolle baie goed. Het jy drama studeer?
Ja, ek het my dramagraad in 2010 aan TUT (Tshwane-Universiteit vir Tegnologie) voltooi.
Amanda is vir eers uit 7de Laan uit. Gaan sy weer haar verskyning maak?
Ek hoop so! Ons sal maar moet wag en kyk, maar ek dink die potensiaal is daar dat sy nog ‘n paar draaie in die Laan kan kom maak.
Watter een van die twee is vir jou die lekkerste om te speel?
Dit is vir my lekker om as aktrise uitgedaag te word en ’n gekompliseerde nuwe karakter te bou van die grond af, en dis beslis wat Amanda is. Ek geniet ook haar persoonlikheid! Maar terselfdertyd is ek baie lief vir Alexa, en dis soms moeiliker om ’n straightforward rol te vertolk. Ek voel dankbaar dat ek die geleentheid het om albei te vertolk!

FOTO Verskaf
The post Carina Nel: Een aktrise, twee karakters! appeared first on SARIE.