Die Afrikaanse sanger Jo Black, oftewel die man met die baard, het vanoggend goeie nuus met sy aanhangers gedeel. Jo se debut-album, Skepe, het platinumstatus bereik.
Verlede jaar het Jo Black die land se nuwe sangsensasie geword. Nou verkoop sy debut-album Skepe soos soetkoek. Maar sê Jo die sukses is steeds oorweldigend.
Jo se musiekvideo vir sy liedjie “Skepe” het verlede jaar as nommer een op iTunes in Suid-Afrika geëindig. Dis al meer as 1 miljoen keer op YouTube gekyk.
Vir Jo voel als nog onwerklik.
“Dis nog soms oorweldigend. Ek word nog elke keer onkant gevang as iemand my herken in die publiek. Ek weet nie hoe raak mense gewoond daaraan nie, dis iets nuuts, maar ek moet sê dat dis great om die impak te sien wat my musiek maak,” het Jo aan SARIE.com gesê.
FOTO: Suikerbekkie Fotografie
Gelukkig is sy vrou, Debbie, en sy twee dogters, Dinieke (7) en Miané (4), daar om hom plat op die aarde te hou.
“Ek is versot op hulle. Hulle is my lewe.”
En vir Jo is Debbie beslis sy rots.
“Sy is een van daai vrouens wat haar gesin bo haarself plaas. En daar is glad nie ’n tekort aan liefde nie. Daar is genoeg soentjie en drukkies om jou deur die dag te kry.”
The post Jo Black se groot nuus! appeared first on SARIE.