Dit gaan goed met Karlien van Jaarsveld. Sy en haar man, Joe Breytenbach, verwag hul eerste baba en bly dolgelukkig in Pretoria saam met haar driejarige tweelingseuntjies, Eliah en Daniël.
Karlien het in Mei vanjaar die nuus op Instagram gedeel dat sy swanger is. “Ek is mal daaroor om swanger te wees. Om nou ’n uitrusting te kies kan nogal tyd neem. Ek is so paar kilo’s swaarder, en waar soetgoed in die verlede deel was van my daaglikse dieet, is dit nou basies my hele dieet. Joe sê ek is een van die ongesondste mense wat hy ken. Hopelik hou ek niks meer van soetgoed wanneer hierdie babatjie gebore is nie.”
Tydens die tweede trimester van swangerskap begin dinge “erg ongemaklik raak”, sê Karlien. “My rug is lekker seer, maar dit [die swangerskap] sal altyd die moeite werd wees. Om hierdie lewe in jou te voel beweeg en te besef dis ’n baba waarvoor ek verantwoording gaan moet doen … En as dit God se wil is, sal ek hierdie lewe vir baie jare kan leer ken, tot die dag van my dood.”

FOTO Phyllis Green
Intussen hou Karlien nog konserte en werk hard aan haar klerereeks wat binnekort beskikbaar sal wees. “Ek het nog so drie musiekoptredes oor voordat ek net bietjie kan lê en my pens ontspan. Ek is ook besig met my KVJ-klerereeks. Ek sê al vir drie jaar lank ek wil dit begin, maar het nooit die regte mense gekry om mee saam te werk nie. Dis asof alles nou in plek val. Ek sien ook baie uit na my aanlyn winkel. Ek gebruik vir eers ’n model, Lani Serfontein (rugbyspeler Jan Serfontein se vrou), om in my plek die klere te wys omdat ek op die oomblik nie meer in enige ding pas nie.”
Karlien sal dan later self die model vir haar klerereeks wees. Daar is ook ’n reeks vir dogtertjies, vertel sy.
Ten spyte van haar besige skedule is haar eerste prioritieit steeds ma-wees en haar seuntjies is haar hart se punt. “Ma-wees is die heel beste ding wat met my kon gebeur. Ek sit weekliks en dink oor hoe bevoorreg ek is dat daar twee seuntjies is wat vir my mamma sê, wat huil as ek twee meter voor hulle loop omdat hulle elke oomblik van die dag langs my wil wees. Alles wat ek doen vat nou tien keer langer. Hulle is baie beskermend teenoor my en teenoor mekaar én teenoor ons nuwe baba. Hulle vertel vir almal ons kry ’n baba en hulle wil alles in die winkels vir die baba koop.”

FOTO Leana Clunies-Ross
Sy was nog nooit so lief vir iets of iemand nie. “Alles is nie ’n sprokiesverhaal nie. Drie [haar seuntjies se ouderdom] is definitief vir my die moeilikste ouderdom sover. Hulle val op die grond neer en kan vreeslik oordryf oor eenvoudige dinge, maar vir hulle is alles groot en baie erg. Ek skreeu definitief soms dat die bure my hoor. Maar hulle laat my ook uit my maag lag en laat my elke dag iets sien van die Vader se hart.”
Oor die jare het Karlien kosbare lewenslesse geleer. “Mense sal jou dikwels teleurstel, maar so sal ek ander ook teleurstel, sonder dat ek wou. Ek het ook besef dat jy soms so oortuig is jou besluit is die regte een, en later sien jy met grysheid kom wysheid. Ek weet ook daar is net een ek. Dit vat al die druk van my af om ooit soos iemand anders te wil wees, want niemand op aarde sal ooit weer my roeping kan vervul nie.”
En die beste raad wat sy al gekry het? “Om stil te bly.”
Sy glo ook jy moet deernis aan ander wys. “Weet dat die mens wat verby jou stap, ook ’n wond toegedien is, so wees vriendelik. Dit kos niks nie.”
Karlien se seuntjie Eliah het dié foto’s geneem
Twee boetas saam
The post Karlien oor ma-wees en lewenslesse appeared first on SARIE.