Sy is een van kykNET se geliefde aanbieders: Eers ’n Kwêla-veldaanbieder vir vyf jaar, toe douvoordag op die ontbytprogram Dagbreek en deesdae is Rozanne McKenzie ’n aanbieder van die aktualiteitsprogram Flits. Sy is ook radio-omroeper by Jacaranda FM. En dis nie al nie: Rozie, soos mense haar graag noem, is deel van Idea Candy, die produksiehuis wat SARIE Voorbladgesig vervaardig.
Maar vir agt weke gaan kykers nie haar vriendelike gesig sien of haar warm stem hoor nie. Haar jongste, ’n dogtertjie, is gisteroggend gebore. Die naam? Fallon Ann. Nou lê haar hart vir eers by klein Fallon, haar Britse man, Chris Bishop, en 3-jarige seuntjie, James.
Rozanne sê haar ma, Anne McKenzie, ’n verpleegster in Londen, gaan haar vir die eerste ses weke kom bystaan. Chris se ma, Jan, en pa, Bob, wat ook in Londen woon, sal ook kom help.
Vir Rozanne en Chris is dit belangrik dat klein James gemaklik moet wees met Fallon Ann se koms. “Hy is baie opgewonde, al is dit vir hom ’n groot aanpassing. En dis hoekom sy oumas en sy oupas hier gaan wees, sodat hy genoeg aandag kry. Hy gaan fine wees.”
Gelukkig is hul nuwe huis groot genoeg vir al die voete.
The post Rozanne McKenzie verwelkom haar tweede kind appeared first on SARIE.