In die jare 90’s is die modelwêreld oorheers deur ʼn paar ikoniese gesigte. Cindy Crawford, Helena Christensen en Tatjana Patitz is maar net ʼn paar name uit die klein groepie betowerend mooi vroue wat bekend was as supermodelle.
Op die voorblad van elke mode- en vrouetydskrif het ʼn supermodel gepronk. Hollywood-aktrises kon net daarvan droom om op die nuutste Vogue te verskyn – dié voorreg was uitsluitlik beskore vir Cindy en Kie.
Maar teen die einde van die 90’s het supermodelle se status begin afneem. Ewe skielik het aktrises hul plek ingeneem op tydskrifvoorblaaie. En ontwerpers het begin voel hul skeppings moet weer die ster op die loopplank wees, nie die model wat dit dra nie. Die groot ego’s en daarmee gepaardgaande wispelturigheid, asook die buitensporig hoë betalings wat supermodelle geëis het, het nie juis hul gewildheid in die bedryf bevorder nie. Hul inkomste het gegrens aan die belaglike – in 1995 het Claudia Schiffer glo $12 miljoen verdien. En die einste modewêreld wat dié primadonna-modelle gemaak en gepamperlang het, het getrou gebly aan homself: Wat vandag in is, is môre eenvoudig uit. Dit geld toe ook die supermodel-verskynsel.
In die 2000’s het die speelveld oopgegaan vir kunstenaars soos sangers en akteurs. Dit was nie net meer supermodelle wat die trefkrag gehad het om tydskrifte te verkoop nie.
Het jy geweet?
Suid-Afrika het ons eie supermodelle opgelewer, soos Tanya Fourie, Teresa de Klerk, Georgina Grenville en Bernice Dodd.
Supermodelle inspireer SARIE-voorblad
In Januarie 1999 het die legendariese fotograaf Peter Lindbergh ʼn Vogue-voorblad met die 90’s-supermodelle geskiet.
![vogue-cover-xlarge]()
Van links: Naomi Campbell, Linda Evangelista, Tatjana Patitz, Christy Turlington en Cindy Crawford
Lindbergh het in 2011 weer ’n groep mooi vroue afgeneem, dié keer vir Harper’s Bazaar.
![slide_195701_451054_free]()
Die inspirasie vir die voorblad van SARIE se Mei 2016-uitgawe was juis die ikoniese Vogue-voorblad van 1999. Op die voorblad pryk die eerste vyf wenners van SARIE se Voorbladgesig saam.
![MEI]()
Supermodelle – toe en nou
Cindy Crawford
Toe: In die 90’s is Cindy bestempel as een van die mooiste vroue op aarde en sy het op talle tydskrifte se voorblaaie gepryk. Sy was die gesig vir onder meer Revlon en ʼn suksesvolle Pepsi-veldtog. Haar moesie en haar huwelik met die akteur Richard Gere het net so baie aandag getrek.
Nou: Vandag is sy 51 en sy was verlede jaar weer op die Paryse Vogue-voorblad saam met haar dogter, Kaia. Sy het verskeie suksesvolle sakeondernemings, waaronder ʼn anonieme huiswarereeks en ʼn reeks skoonheidsprodukte, Meaningful Beauty.
Linda Evangelista
Toe: Sy het haar groot deurbraak gemaak toe sy haar lang hare in ʼn kort seunsagtige styl gesny het. Later het sy bekend geword as The Chameleon vanweë haar vermoë om haar voorkoms te verander en haarself gedurig te herskep. Sy het ook die bekende stelling gemaak: “Ek staan nie op vir minder as $10 000 ʼn dag nie.”
![Linda-Evangelista-vogue-90s-pinterest]()
Nou: Die 50-jarige skoonheid het die afgelope 20 jaar gewerk en het groot veldtogte vir onder meer Prada en John Galliano gedoen.
Christy Turlington
Toe: Sy was die gesig vir handelsmerke soos Maybelline, Revlon en Calvin Klein.
![christy-turlington-vogue]()
Nou: Sy is 48 en het onder meer twee reekse oefenklere, Nuala en Mahnuala. Sy is bekend vir haar passie vir joga en het in 2011 in die veldtog van Louis Vuitton se herfsreeks verskyn. Sy is getroud met die akteur Edward Burns en haar dokumentêre rolprent, No Woman No Cry, is in 2010 bekend gestel. Die film handel oor hoërisiko-swangerskappe die wêreld oor.
Naomi Campbell
Toe: Naomi het haar loopbaan op 16 as loopplankmodel begin voordat sy in advertensieveldtogte vir name soos Prada en Ralph Lauren gewerk het. Sy was ook die eerste swart model op die voorblad van baie modetydskrifte. Sy het romantiese verhoudings gehad met Robert Redford, Eric Clapton en Mike Tyson.
![naomi-campbell-vogue-paris-march]()
Nou: Op 46 is Campbell steeds ʼn superster en werk sy nog aan hoëprofiel-veldtogte en loopplankvertonings.
Claudia Schiffer
Toe: Op 17 het sy ʼn modelkontrak met die modehuis Chanel losgeslaan. Haar interpretasie van die ikoniese Brigitte Bardot het vir haar internasionale roem gebring.
![Vogue-May-1992Source-Vogue]()
Nou: Vandag is sy 45 en getroud met die Duitse regisseur Matthew Vaughan. Hulle het drie kinders. Sy werk steeds vir onder meer Dolce & Gabbana, Chanel, YSL en Alberta Ferretti. Sy hou die rekord vir die model wat op die meeste tydskrifvoorblaaie nóg verskyn het, ’n allemintige meer as 1 000 voorblaaie!
Helena Christensen
Toe: Sy het in 1986 haar loopbaan as Mej. Denemarke begin. Maar sy het eers internasionaal bekend geword toe sy in die sanger Chris Isaak se musiekvideo Wicked Game verskyn het. Ná die musiekvideo het sy kontrakte gekry vir Victoria’s Secret en Covergirl-grimering.
![1600-HELENA-ELLE-COVER-VOGUE-SPIRIT-RESTORATION]()
Nou: Vandag is sy 47 en die medestigter van Nylon Magazine. Helena besit ook boetieks in New York.
Elle Macpherson
Toe: Dié Australiese model het al vyf keer op die voorblad van Sports Illustrated se swembroek-uitgawe verskyn. Sy staan nie verniet bekend as The Body nie. Elle het veral aandag getrek met haar loopplankwerk vir John Galliano en Azzedine Alaïa.
![elle-macpherson-sports-illustrated-swim-1988]()
Nou: Die 52-jarige skoonheid het ʼn suksesvolle onderklere-reeks. Sy het ook in 2011 haar terugkeer na die loopplank gemaak in die Louis Vuitton-vertoning by die Paryse Modeweek.
Tatjana Patitz
Toe: Op 20 was Tatjana een van die mees gefotografeerde vroue op aarde! Vogue het haar skoonheid uitgesonder as “gesofistikeerd”. Haar klassieke, stylvolle en sensuele voorkoms het haar kontrakte met modehuise soos Chanel en Jil Sander besorg.
![1097full-tatjana-patitz]()
Nou: Vandag, ná byna 30 jaar in die modebedryf, bring Tatjana die meeste van haar tyd op haar plaas in Malibu deur saam met haar seun, Jonah. Sy verkies nou om uit die kollig te leef. Sy het ʼn passie vir diere en is ʼn ambassadeur vir die American Wild Horse Sanctuary.
Kate Moss
Toe: Sy het bekend geraak as die gesig vir Calvin Klein-onderklere en meisie van die akteur Johnny Depp. Maar dit was Kate se andersoortige voorkoms wat in die 90’s ʼn revolusie in die modewêreld veroorsaak het. Die nuwe gesig van mode was maer en sonder kurwes, en Kate het die voortou geneem.
![katemoss1]()
Nou: Vandag werk die 42-jarige Kate steeds as model. Sy is getroud met Jamie Hince en het een kind.
The post Die ikoniese 90’s-supermodelle: Toe en Nou appeared first on SARIE.