Dit is kort voor Kersfees en vir dié drie gesinne gaan dit vanjaar anders wees. Elkeen van hulle is ʼn baba ryker.
In die huishouding van Zetske van Pletzen en Altus Theart is daar nou ʼn seuntjie, Alexander. Desiré en Chris Gardner het vir klein James ʼn sussie, Robin, gegee. Sorina Erasmus en Braam Riekert is ook ʼn tweede kind ryker. Klein Braambossie het nou ’n babasus, Miana, met wie hy in die toekoms lekker kan speel. Ongeag of dit nou ’n tuisbly-Kersfees of ’n seevakansie gaan wees, een ding is seker: Vir dié gesinne is dit familietyd.
Gister het die aktrise Zetske van Pletzen vertel van klein Alexander se eerste Kersfees wat langs die Weskus gehou gaan word. Lees meer hier.
Vandag deel Suidooster se Desiré Gardner haar Kersfeesplanne. Sy en haar man, Chris, en eersteling, James, het vanjaar ’n nuweling in hul gesin verwelkom: ’n dogtertjie, Robin.
Waar hou julle vanjaar Kersfees?
Ons gaan oudergewoonte na my ouers se huis naby Mosselbaai. My sussies, boetie, swaer, skoonsus en susterskinders gaan ook almal daar wees van Johannesburg af. Ek sien so daarna uit om hulle almal weer te sien. Ek gaan ook vir die eerste keer my boetie se seuntjie, wat in September gebore is, ontmoet. Ek dink hy en Robin gaan lekker speel … of dalk net lê en vir mekaar loer! Ons familie is baie erg oor Kersfees en om dit saam in liefde met mekaar te geniet. Ons gaan ook die aand van 24 Desember gewoonlik kerk toe vir Carols by Candelight om ons te herinner aan die werklike rede vir Kersfees. Ons eet dan die aand die lekker Kersete en maak teen middernag presente oop.
Vier julle dit tradisioneel of wil julle iets meer moderns doen?
So bietjie van albei. Ons het ons eie tradisies, soos kerk toe gaan en presente oopmaak, maar ons het ook die meer hedendaagse dinge ingebring soos Secret Santa – dat elke persoon nie 101 presente hoef te koop nie. Dinge soos Kersbome word ook soms meer gemoderniseer. In die plek van die groot, groen boom sit my ma soms net ’n geverfde wit tak in ’n pot met presente onder, en liggies om die tak. Ek word weer soos ’n kind oor die Kerstyd en ek geniet dit om daardie opgewondenheid met my kinders te deel.
Dink jy dit is waar dat kinders juis die ‘magic’ in Kersfees bring?
Beslis. James en Robin bring die magic in alles in. Selfs die mees gewone dinge in die lewe het skielik meer magic net omdat ek dit met hulle kan deel. Ek sien vreeslik uit na Robin se eerste Kersfees. Ook omdat dit die eerste keer sal wees wat James, as ouboet, vir sy klein sussie ietsie kan koop en dit vir haar spesiaal kan maak. Natuurlik om te sien hoe James al die aandjies van middel November af aftel vir Kersvader wat kom, maak die kind in my nog meer wakker.
Wanneer deel julle geskenke uit, Oukersaand of Kersdag?
Oukersaand om middernag. Bygesê, die kinders begin al so teen nege-uur moan, daarom het ons die twaalfuur bietjie vroeër gemaak vir hulle onthalwe.
Gaan julle vir die baba ʼn geskenk koop?
Beslis. Sy moet ’n ou ietsie “oopmaak”. Al is dit net vir ons plesier. Robin is nou 5 maande oud, so sy begin al agterkom as mens opgewonde of gelukkig is. Ek’s seker ons sal ’n glimlaggie of drie uit haar kry.
Wie speel Kersvader in jul gesin?
Omtrent elke jaar iemand anders. My pa, die meeste van die tyd, maar al die ander manne (en selfs een van my sussies, haha) het al ’n kans gehad. Wie weet, dalk klim ek nog hierdie jaar in die rooi pak.
Wat gaan julle eet?
Alles en nog bietjie meer. Ons bly nogal by die tradisionele kosse op Oukersaand, die vleise en slaaie met vrugtekoek en room ná die tyd. En dan kouevleis op Kersdag self. My pa probeer wel iewers ’n braaivleisie ook inwerk.
Lees môre wat die Sorina ‘Flooze’ Erasmus en haar gesin vir Kersfees gaan doen.
Lees nou
Bekendes: “Dié jaar gaan dit anders wees”
Moenie strand toe gaan sonder dié wenke nie!
The post Desiré se planne vir Kersfees appeared first on SARIE.